Migrasie van diere

Wildebees migrasie

Onder die begrip migrasie word algemeen verstaan die beweging van organismes van een plek na ʼn ander. Om dit beter te omskryf, moet die beweging egter in terme van al die bewegings van ʼn organisme gedurende sy lewensduur gesien word.

Die meeste bewegings van 'n dier vind binne kontinente plaas. Die tuisveld is die gebied waarin 'n dier beweeg om voedsel, 'n maat en/of skuiling te soek. Jong diere beweeg uit so ʼn tuisveld op ontdekkingstogte om met 'n groter gebied bekend te word. Mettertyd veroorsaak die verkenning dat die dier hom met behulp van bakens en ander hulpmiddels ten opsigte van die omgewing kan oriënteer.

'n Gebied wat 'n dier so leer ken, word sy bekende gebied genoem. In die dierkunde kan die woord migrasie dus gebruik word om die beweging van 'n dier van sy tuisveld na ʼn ander tuisveld, of op soek na nog ʼn tuisveld, aan te dui. Party diere beweeg jaarliks van so 'n tuisveld na 'n ander en keer dieselfde jaar na die oorspronklike tuisveld terug.

Swaels is 'n voorbeeld hiervan en dit word terugkerende migrasie genoem. 'n Tweede soort migrasie wat onderskei kan word, is hermigrasie, dit wil sê daar word na die oorspronklike tuisveld teruggekeer maar deur 'n ander generasie.

Die monargvfinders (Danaus plexippus), wat in Noord-Amerika voorkom, vlieg elke winter van die Groot Mere suidwaarts na Mexiko. Hulle oorwinter in Mexiko of in die suidelike state van die VSA en vlieg in die lente weer noordwaarts. Die meeste vlinders oorleef die vlug van 3 000 km suidwaarts, maar hulle lewensduur is nie lank genoeg om na die noorde terug te keer nie.

Slegs die nageslag van hierdie vlinders bereik die Groot Mere. Die derde soort migrasie, wat landimegrasie genoem kan word, kom ook by die mens voor en behels die permanente migrasie van een land of gebied na 'n ander.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search